Criteria for Honorary Colours

KRITERIA VIR EREKLEURE

HJS-Kleuregrondwet

Werwing van Erekleure

Hersien 13 Januarie 2017

Die Hoër Jongenskool ken erekleure toe aan seuns wat op die gebied van akademie, kultuur, sport en leierskap presteer. Hierdie toekennings word gemaak aan die hand van die erekleurevoorskrifte wat jaarliks hersien en aangepas word.

  • 1. ALGEMENE RIGLYNE

    Kleure aan die HJS sal streng volgens verdienste toegeken word. Die kriteria sal in alle gevalle prestasie in kompetisie, volgehoue diens aan die aktiwiteit en gedrag wees.

    Die toekenning van erekleure berus by die erekleurekomitee.

    Samestelling van die komitee:

    • Skoolhoof
    • Adjunkhoofde
    • Vier senior personeellede, wat betrokke is of was by ’n verskeidenheid skoolaktiwiteite, en deur die hoof aangewys word. (Hierdie lede kan ook die hoof of adjunkhoofde wees.) Die voorsitter word deur die komitee aangewys.

     

  • 2. FUNKSIONERING

    Die komitee hou, soos nodig, vergaderings om sake rakende die toekenning van kleure te bespreek. Aan die einde van elke jaar word die grondwet deur die komitee hersien en aan die personeel en beheerliggaam vir kennisname en goedkeuring voorgelê.

    Die organiseerder of afrigter van ’n skoolaktiwiteit of skoolsport lê aan die einde van die deelnametydperk of seisoen namens die leerders op die amptelike aansoekvorm aansoeke om erekleure aan die komitee voor.

    Die komitee vergader een maal per kwartaal om die aansoeke te evalueer en oor die toekenning van kleure, in ooreenstemming met die kleurebeleid, te beslis. ’n Volledige rekord van kleure wat toegeken is, moet vir minstens twintig jaar bewaar word.

    Die name van die ontvangers van erekleure word tydens ’n saalbyeenkoms aangekondig en ’n HJS-erekleuresertifikaat word aan hulle oorhandig. Die erekleuresertifikaat moet deur die leerders getoon word wanneer hulle die toepaslike kleredrag by die klerewinkel aankoop.

  • 3. KATEGORIEË VAN EREKLEURE

    Daar is twee kategorieë:

    3.1 Onderskeidigskleure

    Donkerblou baadjie, onderskeidingswapen, eredas.

    3.2 Erekleure

    Streepbaadjie, erewapen (lourierkrans om skoolwapen), eredas.

  • 4. ALGEMENE REËLS IN VERBAND MET DIE TOEKENNING VAN KLEURE

    4.1 Alle toekennings is voorwaardelik. Die draer van HJS-kleure moet aan die hoogste norme van gedrag, beskaafdheid en sportmanskap beantwoord. Dit word van die ontvanger verwag om voort te gaan om tot aan die einde van sy skoolloopbaan deel te neem en diens te lewer op die gebied waarop die kleure verwerf is.

    4.2 Indien die draer van erekleure hom skuldig maak aan ernstige wangedrag, soos gedefinieer deur die skool se gedragskode, kan die toekenning tydelik of permanent deur die komitee opgehef word.

    4.3 Kleure word slegs aan seuns in graad 11 en 12 toegeken. Uitsonderlike prestasies, wat kleure waardig is, en wat in ’n seun se graad 10-jaar behaal is, mag op meriete deur die komitee oorweeg word vir toekenning aan die begin van die derde kwartaal van die seun se graad 11-jaar, mits die aansoeker steeds aan die aktiwiteit deelneem.

    4.4 In alle gevalle word toekennings eers gemaak nadat die prestasie gelewer is, of nadat die leerder reeds deelgeneem het. Blote verkiesing tot ’n span word nie in aanmerking geneem vir die toekenning van kleure nie. (In uitsonderlike gevalle mag die komitee hierdie bepaling in heroorweging neem.)

    4.5 In alle gevalle moet deeglike navorsing gedoen word voordat kleure toegeken word en die aansoeker se gedrag binne en buite die skool moet geëvalueer word.

  • 5. TOEKENNING VAN KLEURE

    5.1 Onderskeidingskleure

    5.1.1 Dit is die hoogste toekenning wat die skool maak en word slegs aan seuns in graad 11 en 12 toegeken wat ’n prestasie van nasionale gehalte in ’n skoolaktiwiteit gelewer het.

    5.1.2 Prestasies in hierdie kategorie sluit die volgende in:

    (i) Insluiting in en deelname vir ’n Suid-Afrikaanse  nasionale span (skoolsport, kultuurgroep, akademiese span) wat onder ’n nasionale liggaam ressorteer (amptelike reserwes ingesluit).

    (ii) ’n Medaljewenner (goud, silwer, brons) by ’n SA-kampioenskapsbyeenkoms in ’n skoolsport of -aktiwiteit.

    (iii) Internasionale deelname, mits dit op meriete is, aan ’n skoolsport, skoolaktiwiteit of leierskapsaktiwiteit.

    (iv) Plasing op die merietelys van die Wes-Kaapse Senior Sertifikaat, of die eerste drie in ’n universiteitstoelatingsvak in die eindeksamen.

    (v) ’n Plek onder die eerste drie in ’n landwye vakkompetisie, redenaarskompetisie, olimpiade of enige ander prestasie van dieselfde standaard op nasionale of  internasionale vlak in ’n kompetisie vir skole.

    (vi) ’n Gemiddeld van 90% of meer in enige drie opeenvolgende eksamens van die volgende: Junie graad 10, Desember graad 10, Junie graad 11, Desember graad 11, Junie graad 12, September graad 12.

    (vii) Spelers in ’n SA-akademiespan (rugby) wat na afloop van die Cravenweek gekies word en vir die span speel, kom in aanmerking vir onderskeidingskleure. Daarteenoor kom spelers in ’n SA-akademiespan, wat na afloop van die Akademieweek gekies word om aan die Cravenweek deel te neem, slegs in aanmerking vir erekleure.

    (viii) ’n Seun wat ’n medalje by ’n Vlak 3-swemkompetisie verower, kom in aanmerking vir onderderskeidingskleure. ’n Swemmer wat op meriete kwalifiseer en aan ’n internasionale byeenkoms deelneem, verdien ook onderskeidingskleure.

    5.2 Erekleure

    5.2.1 Akademiese prestasies

    (i) Alle leerders wat in die NSS-eksamen ’n A-gemiddeld behaal.

    (ii) Alle leerders wat in die NSS-eksamen ’n vierde tot tiende plek in ’n universiteitstoelatingsvak of -vakke behaal.

    (iv) Leerders wat ’n gemiddeld van 80% tot 89,9% in enige drie opeenvolgende eksamens van die volgende behaal het: Junie graad 10, Desember graad 10, Junie graad 11, Desember graad 11, Junie graad 12, September graad 12. 

    Leerders wat eers in graad 12 by HJS aansluit, se akademiese prestasie in hulle vorige skole mag, na goeddunke van die komitee, in aanmerking geneem word.

    (v) Alle leerders wat in ’n landwye vakkompetisie of olimpiade ’n vierde tot tiende plek behaal.

    (vi) Ander uitsonderlike akademiese prestasies sal deur die komitee op meriete beoordeel word.

    5.2.2 Kulturele prestasies

    (i) Alle leerders wat ’n vierde tot tiende plek in ’n landwye redenaarskompetisie of ander kultuurkompetisie vir skole, wat onder ’n nasionale liggaam ressorteer, behaal.

    (ii) Alle leerders wat die graad 7 UNISA-musiekeksamen slaag.

    (iii) Deelname aan ’n nasionale eindronde, bv. die ATKV koor-, toneel- of debatskompetisie.

    (iv) Alle ander besondere prestasies op kultuurgebied sal deur die komitee op meriete oorweeg word.

    5.2.3 Leierskap

    (i) Die hoofseun en onderhoofseun.

    (ii) Die kaptein van ’n provinsiale span in ’n skoolsport.

    5.2.4 Sportprestasies

    (i) Erekleure word toegeken aan leerders in graad 11 en 12 wat ’n provinsiale span (nie ’n subunie bv. Noord-Boland nie) in ’n skoolsport of ondersteunende sport verteenwoordig (mits aan vereiste van skoolsportdeelname voldoen is), in ’n A- of B-span. (Spelers wat vir ’n Cravenweekspan speel, sowel as spelers wat vir ’n Akademiespan speel, verdien dus erekleure.) Spelers wat ’n streekspan in enige sportsoort verteenwoordig, verdien geen kleure nie.

    (ii) Sportsoorte wat tans as ’n skoolsport geklassifiseer word, is die volgende:

    • Atletiek
    • Krieket
    • Swem
    • Rugby
    • Hokkie
    • Gholf
    • Tennis
    • Muurbal
    • Skaak
    • Landloop

     

    Sportsoorte wat tans as ’n ondersteunende sport geklassifiseer word, is die volgende:

    • Toutrek
    • Waterpolo
    • Bergfietsry

     

    Seuns wat aan ’n ondersteunende sport deelneem, verdien dieselfde kleure vir dieselfde prestasies as seuns wat aan ’n skoolsport deelneem, maar slegs as die deelnemer op ’n gereelde basis aan minstens een skoolsport in die somer EN minstens een skoolsport in die winter deelneem.

    Deelnemers aan ’n ondersteunende sport wat nie aan bogenoemde vereistes voldoen nie, verdien geen kleure vir prestasies in die ondersteunende sport nie.

    (iii) Algemene opmerkings:

    • ’n Leerder wat vir ’n SA B-span (byvoorbeeld die SA o. 17 B-krieketspan) deelneem, kom in aanmerking vir erekleure.
    • Atlete wat vir die Bolandspan aan die ASA-Jeugbyeenkoms deelneem, verdien erekleure.
    • ’n Swemmer wat ’n medalje verower by ’n nasionale Vlak 2-byeenkoms, verwerf erekleure.
    • ’n Swemmer wat aan ’n nasionale Vlak 3-byeenkoms deelneem, maar nie ’n medalje verower nie, verwerf ook erekleure.

     

  • 6. DRA VAN EREKLEURE

    Leerders wat geregtig is op onderskeidingskleure of erekleure mag dit skool toe dra en ook na sportgeleenthede en ander skoolfunksies, tensy ander reëlings getref word.

    Wanneer die matriekfoto geneem word, moet alle leerders wat op die foto moet verskyn hulle streepbaadjies dra.

  • 7. EREKLEUREKOMITEE

    Die huidige komitee bestaan uit:

    • Mnr. J Strauss (sameroeper)
    • Mnr. D Swart
    • Mnr. R Visagie
    • Mnr. N de Vries
    • Mnr. E Wolfaardt
    • Mnr. B Tesselaar

    Ander organiseerders of afrigters kan gekonsulteer word indien nodig.